Woestyn
Op my pad onthou ek stories
Wat ek dalk nooit sal vertel
Stories van wit strande en die see
Ek onthou die lewe was eenvoudig saam ‘n pêl
Sonder ingewikkeldhede tree vir tree
Ek wonder hoe het daardie tyd verdwyn?
Ons was vier vriende dwarsdeur die Karoo op ‘n trein
Opsoek na avontuur sonder fortuin
Opsoek na lewe sonder om te onderskei
Wat is goed of sleg of wat moet ons vermy
Ons was vier goeie vriende wat kon lag rondom ‘n vuur
En toe lei die lewe my van daar tot hier
Ek’s geseënd maar ek voel soms so alleen
Asof niks of niemand my kan ondersteun deur my woestyn
Asof ek nêrens heen kan gaan om te verdwyn
Die lewe hou my hier met my rug teenaan die muur
Die begeerte om te vlug brand soos ‘n vuur
Dis of die see nie wil bedaar in sy gety nie
Dis hoogwater permanent in my gemoed
Ek sien nie meer my spore in die sand nie
Waar ek laagwater so gereeld kon loop
Koop vir jou ‘n roeiboot sê ‘n mater
Gaan koop vir jou ‘n roeiboot en ‘n spaan
Of begin net bloot te loop op die water
Strome sal jou wys waar jy moet gaan
So keer ek terug na die beginpunt
Waar ek altyd nog wou wees
Daar waar niemand my meer kan beheer
Waar ek net myself kan wees
Sonder al die vrees
Waar ek rustig van die storms kan genees
Waar ek net weer kan skryf oor my woestyn
Waar ek net weer kan drink van die fonteine van die Gees
Net weer kan ontsnap van al die vrees
Wat my om elke hoek en draai probeer versteur
Wat my in elke nuwe hoofstuk wil beheer
Ek staan hier met ‘n nuwe das en badjie voor jou deur
Ek vra jou mooi ontvang my nog ‘n keer