Ruiter Van Skimmelperdpan

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan
By 'n draai in die mond van ‘n kloof
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof

Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf
Met die laaste stuiptrekkende krag
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf
Op die perd sit die grusame krag
Op die perd sit die grusame krag

By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk
In die afkop ding herken sy haar man
Met ‘n onaardse gil val sy bleek soos ‘n lyk
En die perd en ruiter verdwyn in die pan

Oe, oe wat maak jy my man?
Oe, die ruiter van Skimmelperdpan
Die ruiter van Skimmelperdpan

Weet die een wat daar onwetend kom skuil kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan
En vreesagtig 'n wyle ‘n nagdiertjie huil
In die neweliggie van die maan
In die neweliggie van die maan

Want die middernag waai daar ‘n wind deur die kloof
Kwaai huil soos ‘n kindjie wat kerm
En dan jag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof
Wie dit sien roep verskrik heer ontferm
Wie dit sien roep verskrik heer ontferm

Oe, oe wat maak jy my man?
Oe, die ruiter van Skimmelperdpan
Die ruiter van Skimmelperdpan

Waar die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun
En dit vlam uit sy neus en sy oog
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog

En dan eenklaps vanuit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar
Al die hare orent ‘n waansinnige vrou
Met die hande verwringend gebaar
Met die hande verwringend gebaar

Oe, oe wat maak jy my man?
Oe, die ruiter van Skimmelperdpan
Die ruiter van Skimmelperdpan

Waarom rus jy nie rus jy nie Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom altyd maar weer
Die galop die galop die galop

Die afgryslike klank nog ‘n huil nog ‘n lag
En die perd met die romp van ‘n man
Dis geen plek vir ‘n christen mens daar in die nag
Op die pad na die Skimmelperdpan
Op die pad na die Skimmelperdpan

Oe, oe wat maak jy my man?
Oe, die ruiter van Skimmelperdpan
Ja die ruiter van Skimmelperdpan
Die ruiter van Skimmelperdpan
Die ruiter van Skimmelperdpan

Most popular songs of Pieter Smith

Other artists of Middle of the Road (MOR)